Oseaanbesoedeling

Oseaanbesoedeling is dikwels duidelik sigbaar soos op hierdie foto maar sekere onsigbare besoedelende stowwe kan selfs nog meer skade aanrig. 

Oseaanbesoedeling vind plaas wanneer skadelike of potensieel-skadelike stowwe in die oseaan beland. Dit sluit dinge soos chemikalieë, partikels, industriële-, landbou- en huishoudelike afvalstowwe of die verspreiding van indringerorganismes in. Tagtig persent van oseaanbesoedeling kom van die land af. Lugbesoedeling is ook 'n bydraende faktor want daarmee beland gifstowwe of skadelike stowwe in die oseaan. Hierdie besoedeling wat van die land af kom saam met die lugbesoedeling is skadelik vir oseane en die seelewe.[1]

Die oseane word dikwels besoedel deur eksterne bronne soos landbou-afvloei, stof en ander afval wat deur die wind aangewaai word. Nutriëntbesoedeling is 'n tipe waterbesoedeling en dit verwys na oormatige plantvoedingstowwe wat in die water beland en skade aanrig. Dit is die hoofoorsaak van die eutrofikasie van oppervlakwater. Dit is veral 'n oormaat stikstof of fosfor in die water wat die groei van alge stimuleer.

Baie van die potensieel giftige chemikalieë word deur plankton en bentos (seediertjies op die seebodem) ingeneem. Hierdie diertjies is meestal filtervreters en op hierdie manier word die gifstowwe deel van die oseaan se voedselketting. Van hierdie partikels vorm 'n chemiese verbinding wat totaal sonder suurstof is, en dit veroorsaak dat estuariums of riviermondings anoksies word.

Wanneer gifstowwe soos plaagmiddels in die mariene-ekosisteem beland, word dit vinnig opgeneem in die voedselweb van die oseaan. Die oomblik wat dit gebeur, kan hierdie gifstowwe sekere afwykings in die seediere wat dit inneem veroorsaak. Dit lei ook tot siektes wat skadelik kan wees vir die mensdom sowel as die hele voedselweb van die oseaan.

Giftige metale beland ook soms in die marinevoedselweb. Dit veroorsaak sekere biochemiese veranderings, dit verander die gedrag van die seelewe en onderdruk die groei in die seelewe. Daar kom  groot hoeveelhede vismeel in dierevoer voor. Op hierdie manier word die mensgemaakte gifstowwe na diere op land oorgedra en so beland dit uiteindelik in vleis- en suiwelprodukte wat deur die mens ingeneem word.

  1. Administration, US Department of Commerce, National Oceanic and Atmospheric.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne